SplinterDrome

Bring jou splinter drome in woorde ----- Turn you dream fragments into words

PLEASE NOTE ALL WORK ON THIS FORUM HAS NOW BEEN REGISTERED AT SAMBRO FOR COPYRIGHT ON ANY LYRICS THAT MIGHT BE USED IN MUSIC SCORES NEEM ASSEBLIEF KENNIS ALLE WERK OP DIE FORUM IS GEREGISTREER BY SAMBRO VIR KOPIEREG OP ALE VERSE OF DELE DAARVAN WAT MOONTLIK IN MUSIEK LIRIEKE AANGEWEND KAN WORD
Search
 
 

Display results as :
 


Rechercher Advanced Search

Keywords

Latest topics
» lewe,.. minaar of moordenaar
Fri Sep 21, 2012 11:37 am by Lala

» As..........................
Fri Sep 21, 2012 9:56 am by Ronel Holtz

» Lente van my siel
Fri Sep 21, 2012 12:41 am by Ronel Holtz

» Agtergeblewe Paradys
Sat Jul 14, 2012 10:44 am by Utopian Indigent

» tussen woorde
Sat Jul 14, 2012 7:54 am by Utopian Indigent

» Cinnamon heart
Sat Jul 14, 2012 7:54 am by Ronel Holtz

» Drome van Spanje
Sat Jul 14, 2012 7:51 am by Ronel Holtz

» stilte kwatryn
Thu Jul 12, 2012 9:31 am by Ronel Holtz

» van agteruit loop om vorentoe te kom
Thu Jul 12, 2012 9:28 am by Ronel Holtz

October 2017
MonTueWedThuFriSatSun
      1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031     

Calendar Calendar

Affiliates
free forum

Affiliates
free forum


You are not connected. Please login or register

Hoofstuk 6: tyd in stukkies

View previous topic View next topic Go down  Message [Page 1 of 1]

1 Hoofstuk 6: tyd in stukkies on Fri Jun 08, 2012 10:47 pm

“En dit het nag geword en weer lig geword, die volgende dag,” dink Storm lakonies. O, vir hierdie nuwe skooldag is hy net nie LUS nie. Alles waarheen hy uitgesien het in die oggend, is nou daarmee heen. Hy is onseker oor waar hy heengaan, wat sy doel is vandag en hoe hy sin gaan maak van die Groot Stelsel, die kosmos om hom, die tyd wat voortspoed na iets toe. Die energie van jonkheid is ’n mite. Energie word opgewek deur ’n doelwit, ’n vooruitsig, ’n vermoede van komende opwinding. Dit is ’n reuse taak om te stort, aan te trek, te eet, tande te borsel en sy fiets uit die garage te sleep en skool toe te trap. Sy pa en ma se aanmoediging en gegroet spoel van hom af soos water, die gesprek tydens ’n vinnige ontbyt klaar vergete.



Dit was nie voorheen so nie. Storm se kleintyd is vir hom vaag, asof hy dit in ʼn boek gelees het in plaas van belewe het. Maar hy onthou wel die laaste drie of so jaar goed. Die oorgang van laerskool na hoërskool was moeilik. Hy was tingerig en altyd ’n bietjie agter as dit by speel kom, asof hy ’n jaar of twee jonger was as wat sy geboortesertifikaat beweer het.

Pa Ian het probleme by die werk of iets gehad maar hy was skaars bewus daarvan, so het hy gestoei om sy eie pad oop te kry. Kommunikasie en inpas was nie hulle gesin se sterk punte nie; die hele gesin was effens uit pas met die omgewing. Pa en ma het soms gepraat asof daar ’n groot aanpassing agter die rug is en nou is daar iets wat gemaak werk moet word. Storm het gevoel asof hy die verantwoordelikheid daarvoor deel, met boetie Johan en sussie Icarissa (arme ding, wat ʼn naam) wat nog so klein was.

Na ’n lang gespook was Storm mooi in beheer van sy lewe, en tóé die slegte nuus dat hulle moet trek: Die huis en omgewing was te duur; die hele gesin sou meer spaarsamig moes wees; ’n vreemde skool en nuwe maats. Boonop ’n staatskool aan die verkeerde kant van die stad.



Die dae by die nuwe skool sleep stadig en troosteloos verby. Dit is ’n dubbelmedium skool, die klasse is groot en die onderwysers is oorwerk. Met dowwe oë probeer húlle een of ander ordelike vordering deur die ongedissiplineerde wanorde maak. Of enigiemand raaksien hoe hard Storm werk, weet hy nie. Die meeste ander kinders praat Tswana en tydens pouses gaan dit maar swaar. Die paar kinders wat wel Afrikaans en Engels met mekaar praat, verwelkom nie nuwelinge nie.

Op ’n dag maak Storm ’n deurbraak wat sy skoollewe ’n bietjie verbeter. Hy volunteer om die gym te help skoonmaak en werk so hard dat Meneer Lentsela hom vra om elke week daar te werk. Dit beteken ook dat hy pouses in die gym oefen in plaas van om sy tyd op die speelgrond te mors. Alles in die gym is lekker, maar die bok is sy game. Dit is vir hom naby aan volkome vryheid om, met net sy hande op die bok, deur die lug te kan swiep. Alhoewel hy dit nooit geken het nie, voel dit soos iets wat hy nog altyd gedoen het.



Alhoewel dit makliker was om maats te maak by sy ou skool, was daar ook lank gelede die dag terwyl almal wat span gekry het, pouses met atletiek en rugby besig was. Storm het toe ’n krieketbal agter die fietsloods opgetel en gekyk wat hy daarmee in die nette kan doen. Hy het al ’n bietjie krieket gespeel, maar nog nooit met erns nie.

Hy het eenmaal gesien hoe Alan Donald hardloop en boul. Dit het gelyk asof hy so lig op sy voete is dat hy oor die grond sweef tot by die streep, vastrap en dan die kolwer in die oë kyk terwyl hy ’n missiel op hom afstuur. “Hoe moet dit voel?” het hy gedink. Hy het hom verbeel hy het al iets gedoen soos om baie vinnig perd te ry met die wind wat deur sy hare spoel. Ai tog, so ʼn ooraktiewe verbeelding darem!

Na ’n week of twee se pouses, het Storm nog nie goed geboul nie, maar hy het al die gevoel reggekry: Die gevoel van veerkrag in sy bene as hy wegspring op die regte plek wat vir hom gemaklik is. Die opwinding van die boulstreep wat al hoe vinniger nader kom. Die tevredenheid van vastrap met die regte ritme, die gevoel van vaardigheid as sy arm presies reguit en hoog afkom en die bal wat al hoe meer gereeld die paaltjie getref het of, nog beter, opgespring en bo-oor die paaltjies geblits het.

En toe het die dag gekom wat hy gedink het sy pret is verby, toe Meneer Kruger hom daar vang. Maar in plaas van raas, het hy opdrag gekry om die onder vyftien oefening wat die volgende week sou begin, by te woon. Dit was die begin van ’n nuwe lewe vir hom by die ou skool. Meneer Kruger was die stil en sterk tipe. Storm het hom vertrou en baie by hom geleer.



’n Nuwe lewe breek ook aan by die nuwe skool, al is dit net daardie pouses wanneer die gym vir hom oopgesluit word. Met nuwe moed stap hy vandag na die onderwyser.

“Sir, may I ask you something?”

Meneer Lentsela knik.

“I want to play cricket, but I have been unable to find out what the schedule for practice is or who to talk to about joining. Can you help me, please?”

Kenneth Lentsela kyk na die lang wit seun wat voor hom staan. Die spiere het uiteindelik begin ontwikkel en die seun doen toertjies in die gym wat hom laat wens die skool kon weer bekostig om ’n gimnastiek span vir kompetisies op die been te bring. Na verlede jaar het hy opgegee om ’n krieketspan in die jonger ouderdomsgroepe in te skryf. Al die gesukkel om toerusting, vervoer en ondersteuning te kry, en dan gedra die herderlose groepie seuns hulle boonop soos varke. Maar hier voor hom staan een wat almal met respek behandel, wat hard werk en vriendelik is. Wat moet hy vir hom sê?

“You’ve found the right person, son, but there is no schedule for your age group. In this school we begin with cricket when rugby season is over and we don’t have an under fifteen or sixteen cricket team.”

Storm frons onbegrypend.

“I tell you what, you can join the second team when practice begins. You’re as tall as the sixteen-year olds and you don’t need that much weight to play cricket.”

Storm se gesig verhelder.

“Well, rugby season is over now, so where can I get that practice schedule, sir?”

Nou is dit die onderwyser se beurt om te frons. Hoe vertel hy hom nou dat dit nie die moeite werd is om die paar weke voor die wintervakansie al te oefen met die span wat hulle het nie? Hy sug.

“I tell you what, Storm, I will give you the list of last year’s players that are not yet ready for the first team, and if you find and hand each one of them a notice, we can start tomorrow after school at the nets. That’s better than having those boys hang around in the streets after school. I’ll find the keys and your first job will be to tidy up the nets.”

“Thank you sir, there’s still enough time left in this break to start handing out notices. I’m on it right away,” verras hy die onderwyser weer eens.

Die volgende middag om half twee is Storm op sy pos met ’n toebroodjie in die hand. Meneer Lentsela sluit die nette oop en Storm begin vee met ’n besem wat hy geleen het. Toe hulle begin bossies uittrek, daag ’n paar ander seuns op. Die ander staan eerder en kyk en maak grappies onder mekaar.

“How did you get the notices out so quickly?” vra Meneer Lentsela.

“I didn’t, sir,” antwoord Storm. “I went to the office and asked for help to send out an official cricket practice notice to a list of students. The sms by e-mail service has a number for almost everyone and I could just pick out their names on the screen. I printed notices for two kids who did not have a recent number on the system and handed it to them.”

Storm onthou die onaangenaamheid daarvan. In hierdie skool moet jy maar oppas vir boelies en bendes. Die twee sportmanne het in ’n groot groep seniors gestaan en in die proses is hy gevloek en gepootjie.

“But where is Ray?” vra Meneer Lentsela.

“He was invited, sir,” antwoord Storm.

Die onderwyser sug. Dit gaan nie veel help om in hierdie liga sonder ʼn regte vreesaanjaende bouler te probeer meeding nie.

“Well, let’s start with fielding practice since he’s not here. You drop the ball, you run to the pavilion and back!”

Die ouer seuns praat nie met Storm nie, hulle stamp hom sodat hy die bal misvang en agteraf hoor hy “teacher’s pale pet”. Dit sal alles egter nie saak maak nie as hy maar net kan boul. Maar by die nette kom hulle nie uit nie. Vang en hardloop en gooi is al wat hulle oefen, en hy kan sien dat dit nodig is. Anders as by die ou skool, is hierdie klomp lui en styf met die bukkery en duikery. Hoe harder Storm probeer, hoe meer vyandiggesind word hulle.

Na die oefensessie ry hy sukkel-sukkel huis toe op sy fiets, vol blou kolle en vol van wanhoop. Hoe gaan hy deur dit alles kom as daar nie krieket is nie?

By die huis gekom, wag sy ma hom in. Bekommernis maak plooie op haar gesig en sy vra: “Waar was jy en weet jy hoe laat dit is?”

Ja, sure, hy is alwetend, hy kan selfs sulke vrae met waardigheid antwoord.

“Ekskuus, ma, dit is nou Dinsdae en Donderdae krieket soos in die ou dae. Het ek iets gemis?”

“Ons het tien minute om by dokter Krog te kom vir jou finale sessie, my kind,” antwoord sy.

KROG. Hoe kon hy vergeet het? Dit is vir hom so swaar dat hulle nie meer die terapeut kan bekostig nie, en vandat hy by die nuwe skool is, droom hy weer sulke aardige goed.

“Krog hou daarvan as ek moeg, natgesweet en bedruk is, ma, so ons kan maar dadelik ry,” sê hy en glimlag met sy wenkbroue effens op ’n knop getrek asof hy verleë is. Hy weet dat dit sy ma se hart sag maak. Binne ’n japtrap is hulle in sy ma se magenta karretjie op pad na Krog toe.



Krog. Hoe het hy nie teen die eerste sessie opgesien nie. Storm het homself verwens dat hy vir pa Ian van sy drome vertel het. Dit was een van daai pa-en-seun naweke by die kerk, en hy het amper gevoel hy begin sy pa ken. En toe vertel hy hom van die hekse en die vuur en die insek-soldate en ander gedrogte, en van die kleure. Krog was baie bekommerd oor die helder kleure in sy drome.

Soos afgespreek, het ma hom ook destyds net afgelaai en gery. Hy moes drie keer deur die stowwerige grys-en baksteen gebou se inligtingsbord kyk voordat hy die naam Krog gesien het. Dis op die vyfde vloer, en die hysbak het nooit gewerk nie. Storm het alles behalwe gestorm teen daardie trappe op.

In die gang op die vyfde vloer was daar net een kantoordeur, en dit was op ’n skrefie oop. Hy het sonder sukses geklop en dit effens oopgestoot. Binne was dit chaos. Daar was ’n tafel en twee stoele, laaikaste en ’n halfpad gevrekte kroton in ’n stowwerige pot. Die laaikaste was almal oop en die inhoud was oor die vloer gestrooi, met ’n paar hoopvolle hopies papiere op die tafel. Orals was daar vuil koffiebekers. Die mure was kaal behalwe vir een afdruk van ’n kleurvolle toneel in die Griekse eilande. Wit huise, donker turkoois see, koningsblou lug en bakke en nogmaals bakke vol rooi, wit en magenta blomme wat orals oorhang.

Toe eers het hy die kort fris mannetjie met die amper-grys hare en baard agter die tafel gesien. “Het jy die bokse kom haal?” was al groet wat hy destyds gekry het.

“Nee, umm, is dit ’n slegte tyd?”

“Dis ’n umm slegte tyd as jy die bokse kom haal het, want hulle is nog nie vol nie,” het die antwoord gekom terwyl die mannetjie onder die tafel ingekruip het om iets uit te haal.

Storm het maar ewe gedwee gewag.

“AHA!” het die mannetjie uitgeroep.

“Aha! wat?” wou Storm weet.

“Aha! ek het my skedule vir vandag gekry,” het die mannetjie geantwoord en triomfantelik die papier omhoog gehou en dit toe deur die lug geswiep soos ’n swaard.

“En jy is Storm. Hallo, ek is Krog. My naam is nie meneer nie maar my van is wel Krog.”

“Umm goeiedag, Krog.”

“Sit êrens,” het Krog genooi met ’n majestueuse gebaar na die radelose stoele.

Storm het besluit dat die regte benadering om hierdie aanslag op sy saligheid af te weer, was ’n ligte ene. “Ek dag ek gaan op ’n leer-bank lê,” het hy teleurgesteld opgemerk en die wenkbrou-ding wat van vroeg af sy ma saggemaak het, gebruik.

Toe het Krog regop gestaan en hom in die oë gekyk. Krog se kykers was helder asuurblou en kon dwarsdeur ’n mens kyk as jy nie oppas nie, veral die eerste keer.

“Die kantoor word ge-redecorate. Hierdie is die ontvangskamer. Jy moet sit anders moet ek opkyk en dan kan ek nie in jou siel in sien nie. Ek kan nie notas neem nie, want die inbrekers het al my skoon papier gesteel en net hierdie vol gekrapte gemors vir my gelos. Jy moet dus maar verskoon as ek alles op hierdie diktafoon opneem.”

Geskok het Storm maar gaan sit.

“So, jy droom verruklike drome,” het Krog voortgepraat.

“Ja, die kinders sal gesigte sien en die oumense drome droom,” antwoord Storm hom toe.

Dit het hom twee minute van ongemaklike stilte gekos onder die soeklig van Krog se oë, en hy het besluit om dit nie weer te doen nie. Die ligte aanslag was reg vir alles behalwe wanneer iemand hom wil help of ’n ernstige vraag wil vra.

“Eintlik wil ek droom, maar die drome moet nie hande uitruk nie,” voeg hy toe maar by.

“Beheer oor drome is nie my sterk punt nie, maar as ons genoeg gesels kan dit dalk help,” het Krog geantwoord.

En so het ’n jaar en ’n half van besoeke aan Krog begin, besoeke wat Storm mettertyd geniet het. Krog het hom nie probeer red nie, hy het net ’n onwrikbare vertroulikheid geskep waarbinne alles gepraat kan word.

Storm het ’n sluitkas gekry met sy eie geheime kode, waarin die diktafoon kassette geplaas is, en daar het dit gebly. Krog het die kassette met gekleurde plakkers geklassifiseer: Koningsblou was drome waarmee hulle al goeie vordering gemaak het; oranje was gesprekke wat oor skool, familie en meisies gegaan het; en magenta was drome en ander probleme wat nog vir hulle te ingewikkeld was. Drome was toe wel een van sy sterkpunte, want Krog het vir hom ’n paar kunsies gegee om mee te eksperimenteer totdat hy groot genoeg was om te droom wanneer hy droom en te lewe wanneer hy lewe.

“In watter eeu het jy ’n diktafoon gekoop wat nog met kassette werk?” het Storm eendag gevra, “vir dekades lank al gebruik ons diktafone met geheue stokkies.”

“En hoeveel data kan hierdie sogenaamde stokkies opneem?” het Krog gevra.

“So twee- tot vyfhonderd megabites,” het Storm met genoegdoening geantwoord.

“’n Mens kan met gerief jou hele massiewe brein op een so ’n stokkie laai, en hoe gaan ek dan die data in die laai klassifiseer?” het Krog gevra.

“Watter soort terapeut IS jy, en waar is jou sertifikate?” het Storm teruggekap.



En nou moet hy vir Krog tot siens sê, omdat sy pa net soveel kleitrap in die lewe as hy self, en daar dus nie geld is nie. Hy sal die man se deernis met innerlike staal baie mis, maar hy het genoeg geleer om self aan te gaan. Wat ookal die rede vir sy drome is, hy sal sy lewe van voor af uitsorteer. Ja, net soos Krog daardie kantoor uitgesorteer het terwyl Storm met die diktafoon gepraat het, met Krog wat skeidsregter speel. En dan sal die drome nie meer saak maak nie.



Krog het hom ook in ekstra tyd leer skaakspeel totdat hy vir hom en sy pa kon wen. In krieketseisoen moes hy ook by sy pa krieket-skindernuus kry sodat hy en Krog die tellings en die skindernuus kon bespreek. Krog het nooit met sy pa gepraat nie, maar daar was ’n misterieuse kanaal deur hierdie krieket-klets oopgemaak.



Die volgende oggend stuur Storm ’n tweedespan krieket-afkondiging deur die kantoor se e-pos SMS diens vir Donderdag se oefening uit. Hy laat dit twee keer aan Ray stuur en lewer ook ’n uitdruk by sy klaskamer af. As hulle net gaan krieketspeel as die boelie-bouler daar is, gaan hy hom daar kry. Een of ander tyd MOET hulle hom wat Storm is, ’n kans gee om te boul, en dan gaan die poppe dans.

Daardie aand gaan Storm draf. Hy oorskat homself effens en raak erg moeg op pad terug huis toe. Die kortpad oor die kerkgronde kan seker nie kwaad doen in die nag nie, so hy spring oor die lae hekkie agter die kerk. Toe hy om die groot eikeboom gedraf kom, voel hy ʼn weird trilling en kyk op na die kerktoring.

Sy hart gaan amper staan.

In plaas van die gewone kerk staan daar ʼn antieke katedraal. Die verweerde klipmure is met mos en muf begroei. Bo-in die toring hang ʼn pragtige groot koperklok wat in die spookagtige lig van ʼn halwe maan blink. Agter die klooster sien hy ʼn appelboord vol in die blom. Hy kan die soet reuk van bloeisels ruik, asook iets anders....die see.

DONG!

Die kloosterklok laat hom spring van die skrik. Storm hardloop nou soos nog nooit tevore. Hy spring los oor die voorhekkie. Hekkie? Hy kyk om en sien weer die doodgewone ou kerk agter hom. Geen appelboord en, helaas, geen see in sig nie. Daardie nag hou hy sy notaboekie byderhand vir die drome wat sekerlik sal kom.

Donderdag-oggend tydens eerste pouse staan Storm op die stoep voor die gym toe iemand hom hard van agter af stamp. Hy val op die stoepvloer, sy koeldrank die hele wêreld vol gespat, en kyk op na ’n groot sestienjarige seun.

“Whitesh!t don’t you send me no more sh!t,” snou Ray hom toe en sy gesig vertrek van die weersin.

“Mister Lentsela asked me to send it out. He won’t play a second team if you don’t bowl,” antwoord Storm terwyl hy opstaan.

“Are you flapping lip to me? This boy’s gonna bowl for the first team this year and there’ll be no other senior team. Whiteboy can play for the under fourteens. Get it?” Ray gluur hom aan.

Voor Storm kan antwoord, stamp Ray hom weer, stap weg en sê oor sy skouer:

“Clean up, you white trash.”

Die res van die dag gaan soos ʼn waas verby. Na skool stap Storm stadig nette toe om te kyk wat gebeur. Die nette is oop en Storm begin die laaste paar bossies tussen die verwaarloosde betonblokke uittrek. Skielik hoor hy: “Hey you!”



’n Groep van die seuns wat by die vorige oefening was, staan agter hom.

“Ray said there’s no second team or any other team for the likes of you,” sê een van hulle. Hulle staan dreigend nader. Een van hulle het ʼn mes, wat hy weer vinnig wegsteek toe iemand sê: “Ksss, ksss.”

Almal kyk na waar meneer Lentsela agter die pawiljoen uitstap in gesprek met ʼn nuwe seun. Halfpad oor die veld gaan hulle staan, met die nuwe seun se rug na hulle. Hy is lank en maer en lyk effens bekend. Die twee van hulle stap nader, en die seun roep iets in Tswana na die groep wat by Storm staan.

Toe hulle nog nader kom, sê Meneer Lentsela: “There is going to be a team for everyone except those who think they own cricket.”

Almal snak na asem, maar Storm staan gevries. Dit kan nie waar wees nie. Wat maak hy hier? Die ander seun is...Storm hardloop na hom toe en gryp sy arms vas in die groet van bloedbroers.

“SIYA! Bayete Nkulu!”

Almal staar na hulle, en Siya omhels hom met trane in sy oë.

“Hoe gaan dit met jou hier tussen die moegoes, Storm my broer? My broer, ek kon nie by daai skool bly sonder jou nie, daar is mos darem busse en hier is ek.”

Daarna draai hy na die groep agter hulle en sê: “Your team will be poor until you let this Bafana bowl. Only I can face the fury of his lightning.”

“Siya is hier,” dink Storm, “en my lewe is weer aan die groei.”

View user profile

View previous topic View next topic Back to top  Message [Page 1 of 1]

Permissions in this forum:
You cannot reply to topics in this forum