SplinterDrome

Bring jou splinter drome in woorde ----- Turn you dream fragments into words

PLEASE NOTE ALL WORK ON THIS FORUM HAS NOW BEEN REGISTERED AT SAMBRO FOR COPYRIGHT ON ANY LYRICS THAT MIGHT BE USED IN MUSIC SCORES NEEM ASSEBLIEF KENNIS ALLE WERK OP DIE FORUM IS GEREGISTREER BY SAMBRO VIR KOPIEREG OP ALE VERSE OF DELE DAARVAN WAT MOONTLIK IN MUSIEK LIRIEKE AANGEWEND KAN WORD
Search
 
 

Display results as :
 


Rechercher Advanced Search

Keywords

vers  gedigte  

Latest topics
» lewe,.. minaar of moordenaar
Fri Sep 21, 2012 11:37 am by Lala

» As..........................
Fri Sep 21, 2012 9:56 am by Ronel Holtz

» Lente van my siel
Fri Sep 21, 2012 12:41 am by Ronel Holtz

» Agtergeblewe Paradys
Sat Jul 14, 2012 10:44 am by Utopian Indigent

» tussen woorde
Sat Jul 14, 2012 7:54 am by Utopian Indigent

» Cinnamon heart
Sat Jul 14, 2012 7:54 am by Ronel Holtz

» Drome van Spanje
Sat Jul 14, 2012 7:51 am by Ronel Holtz

» stilte kwatryn
Thu Jul 12, 2012 9:31 am by Ronel Holtz

» van agteruit loop om vorentoe te kom
Thu Jul 12, 2012 9:28 am by Ronel Holtz

December 2017
MonTueWedThuFriSatSun
    123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Calendar Calendar

Affiliates
free forum

Affiliates
free forum


You are not connected. Please login or register

Die ritueel

View previous topic View next topic Go down  Message [Page 1 of 1]

1 Die ritueel on Sat Mar 03, 2012 7:03 pm

Sorm lê meesal wakker deur die laaste nag. So hier en daar sluimer hy so ’n bietjie in. Die meeste van die tyd voel hy asof hy in iemand anders se lewe gedompel is. Dit wat besig is om te gebeur, hoort by ’n vreemdeling, nie by hom nie. Maar hy het al soveel keer deur dit alles gewerk in sy kop en hy weet wat om te doen.

Soveel keer het hy dit nou al deurdink, dat hy al die kleure en reuke van vandag se seremonie ken. Hy weet selfs al presies hoe lyk die fyn naaldwerk op die oorkleed van die twee seremoniële wagte wat hom later vandag gaan kom haal. Nou gaan hy vir die laaste keer in sy kop deur al sy voorbereidings en bevestig of alles in plek is. Dit mag dalk onwerklik voel, maar dit is belangrik. Baie mense maak op hom staat, sowaar, heeltemal te veel mense is van hom afhanklik.

Dan staan Sorm van sy warm bed, van growwe hout bedek met strooi en velle, op. Sy voete rus op die koue klipvloer. Hy hang ’n eenvoudige mantel van goiing en vel om sy skouers en gord ’n leergordel met sy kortswaard in ’n skede aan. Hy trek sagte velskoene aan in plaas van die raserige stewels. Dit is baie vroeg. Die vuur in die kaggel van hierdie kleinerige slaapsaal is lanklaas gevoed en gloei net. Dit is vrek koud.

Dit is nou die regte tyd om met die gebeure van hierdie belangrike dag te begin. By die voetenent van sy bed lê iemand in ’n hoop velle en, toe hy sy eerste tree gee, is dié ou wakker. Sorm glimlag toe Krijger, die getroue soldaat, opspring. Hy is baie langer as Sorm, met breë skouers en pikswart hare wat hy laat kort skeer het soos dié van sy heer. Hy het die helfte van sy mondering aangehou in die nag om paraat te wees.

“Dis nie nodig om saam te kom nie, Krijger,” sê Sorm en plaas sy hand op een groot skouer, “red eerder die vuur, want ons gaan hom netnou nodig kry.”

“Ja, my heer,” antwoord hy met sy growwe maar slaperige stem.



Maar toe Sorm na sy spesiale kamer stap, hoor hy die bekende voetstap drie treë agter hom. Krijger het ’n ander soldaat uit die bed geboender en die vuur aan hom gedelegeer.

Sorm neem sy bedlantern en stap uit die saal met sy handvol slapende soldate en helpers, in die antieke klip-gang af. Dit is een van die mooier dele van die kasteel, maar steeds is dit net gedeeltelik van klip gebou, met laswerk van hout. Nie ideaal vir ’n groot oorlog nie.

Sorm gaan by ’n klein kamertjie in en maak die deur toe. Hy hoor hoe Krijger buite op rus gaan staan met ’n wapen wat klingel teen die klip.



Sorm het lankal hierdie klein kamertjie vir homself opgeëien. Daar is ’n eenvoudige houttafel en ’n growwe houtstoel. Op die stoel is ’n verweerde kussing van rooi en bruin brokaat, die kleure van herfsblare. Twee geweefde matte in die ryk kleure van ’n ver land, een op die grond en een teen die muur, versier die koue grys klip. Bo die tafel teen die muur hang ’n magenta en koningsblou kruis van geglasuurde en gebakte klei. Daar is geen venster nie, net twee fakkels in brons hake teen die muur vir lig. Sorm steek een van hulle met sy lantern aan en plaas dan die lantern op die tafel.

Hy sit op die stoel langs die tafel en tel die enigste ander voorwerp op die tafel op: ’n Kosbare handversierde Boek. Hy streel met sy hand oor die gerusstellende ou leeromslag. Die kerkvaders en leermeesters was seker nie baie tevrede met die effens uitspattige styl wat hierdie onbekende monnik lank gelede gebruik het nie. Die skrif is netjies, maar die versierings en sketse is oordadig en kleurvol. Die eerste bladsy het net plek vir die eerste sin van Genesis 1, want die res van die bladsy is vol krulle en mitologiese figure binne ’n breë raam op ʼn magenta agtergrond. Sorm se pa Iannus het dit spottenderwys ‘die magenta Boek’ genoem.

“Pa,” dink hy terwyl hy vat aan die hanger om sy nek met die chalcedoon steen en die klein houertjie waarin die essensie van sy pa se as gebêre is, “jy het te gou gegaan, ek is nog te jonk.” Hy het sy pa nie eers behoorlik leer ken in die deurmekaar tyd van aanhoudende burgeroorlog en skermutselings nie.

Sorm onthou min van sy kinderjare, asof hy nie self daar was nie, maar meer op vertellings van ander mense moet staatmaak. Hy was nie gesond nie en het stadiger gegroei en ontwikkel as wat hy moes. Hy was die hele tyd agter by ander seuns asof hy eintlik ’n paar jaar jonger is. Soveel so dat hy nie sterk genoeg was om op twaalfjarige ouderdom na die gevegsfront te gaan vir opleiding nie.

Hy is toe maar na die kloosterstad Edburg, geleë op die punt van ’n kaap aan die Noord-Westelike kus, vir akademiese opleiding en veiligheid gestuur. Daar het hy met die drie oorlogskepe van hulle armsalige vloot kennis gemaak en die bemanning het hom mettertyd leer ken.

Sorm het sy bes gedoen met dit wat hy gehad het. Hy het met moeite ’n handjievol ondersteuners bymekaargemaak ter wille van die moeilike taak wat toe reeds swaar op sy skouers gerus het. Sy skripsies en briewe het die kloosterleiers en ’n paar adellikes gaande gehad en respek vir hom verdien. Daarna het hy met slim uitvindsels die oorlogskepe meer vaartbelyn, vinniger en meer hanteerbaar laat maak.

Mettertyd was hy vir ’n paar weke saam met afdelings van die leër op inspeksies van die grens-torings en op patrollie in die berge. Op sy unieke stil manier het hy tot ’n paar soldate en offisiere deurgedring, sodat hy ’n paar broodnodige ondersteuners onder hulle het. Die meeste van hulle het die laaste drie dae saam met hom in die slaapsaal gebly. Krijger en sy makkers het hulle eenheid verlaat om Sorm te volg toe die boodskap oor sy pa gekom het en hy hom na die kasteel gehaas het. ʼn Paar seesoldate het ook saamgekom.

Die een ding waaroor hy nie heeltemal oop kaarte met enigiemand speel nie, is sy persoonlike spioenasienetwerk. Soos wat hy met verskillende mense kontak gemaak het, het hy die regte kandidate op strategiese plekke geïdentifiseer: Hier was dit ’n lojale ondersteuner; daar was dit ’n familielid van Krijger; ’n jong monnik wat saam met hom studeer het en toe uitgeplaas is na die heilige stad; ’n soldaat wat hy uit ’n verknorsing gered en weggestuur het na ’n grenspos. Sorm het nie soos ’n adellike geleef nie, want hy het sy toelae gebruik om spioene te vestig en te onderhou.

Dis nog iets wat die monnik Krog, sy leermeester, vir hom geleer het: “Weet altyd meer as wat mense dink dat jy weet. Net ’n dwaas loop en spog oor kennis wat hy nie eens het nie.”

Ongelukkig weet hy reeds te veel, en hy ontvang gereeld verslae van wat aangaan van die verre Noorde tot by die heilige stad en selfs verder...

Sorm sak op sy knieë langs die stoel neer. ’n Kombinasie van vrees vir, en opwinding oor dit wat voorlê, is wat hom deesdae so min laat slaap. Dit is alles te groot vir hom, hy is te jonk en swak en hy hoort nie hier in hierdie rol nie. Kan dit nie maar eerder iemand anders wees nie?

Dan onthou hy iets wat die wyse Krog ook gesê het: “Opwinding en vrees kom saam voor groot uitdagings, want jy moet die opwinding gebruik om die vrees te oorkom.”

Buite hoor hy hoe Krijger sy gewig na die ander voet oorsit. Die tyd loop uit. Sorm sit vir ʼn oomblik op die stoel en lees in die Boek: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy ’n voorbeeld...”

Toe staan hy op, doof die fakkel uit, raak saggies aan die kruis teen die muur, tel sy lantern op en stap by die deur uit. Krijger staan regop en kyk vraend na hom.

“Ek heg groot waarde aan jou, Krijger,” sê Sorm sag, “bly vandag naby my.”

“Ja, my heer, soos ’n skaduwee,” antwoord die jong reus met ’n glinstering in die oog.

“En van nou af, as ons alleen is, noem my asseblief Sorm.”

“Maar...”

“Ek het nog ’n vriend meer nodig as nog ’n onderdaan.”

“Ja,...Sorm.”

Sorm stap twee verdiepings met ’n kronkelende houttrap op na ’n kamer met ’n swaar houtdeur. Hy klop, gooi die kopdeel van sy mantel af sodat sy kort blonde hare sigbaar is, en stap binne terwyl Krijger buite bly.

Dit is warm binne-in die kamer met ’n groot kaggelvuur wat lustig brand. Soos gewoonlik is die gordyne voor die ongekleurde loodglasvenster oop sodat sy ma die sonsopkoms kan sien. Die diensmeisie buig en skarrel by ’n ander deur uit. Sorm gaan op die groot hemelbed sit. Sy ma is bleek en lê toe-oë, haar stadige asemhaling tog duidelik sigbaar. Hy vat haar slap hand en druk dit een maal. Sy maak haar oë moeg oop en glimlag effens vir hom.

Die deur gaan oop en sy sussie en boetie kom stil binne en kom sit langs hom. Hy gee elkeen ’n drukkie. Daarna staan Sorm op met sy hand op die hef van sy kortswaard, en stap uit na waar sy ’skaduwee’ geduldig buite in die gang wag.

Hulle stap stil terug na die slaapsaal. Buite die deur kan hulle hoor dat dinge verander het. Die manne is wakker en besig met die begin van die dag.

Sorm wag vir ’n oomblik met toe oë en dit tref hom: Al die geure, kleure en klanke van dit wat hy gaan belewe, alles soos hy hom dit voorgestel het, asof hy sy lewe van ver af dophou. Toe stap hulle in en ruik die geur van soutvleis wat ’n paar soldate met stokke in die kaggel braai. ’n Paar ander is besig om aan te trek of om hulle beddegoed op te vou. Sorm stap stadig deur hulle, maak oogkontak, raak aan hulle skouers, hou sy hande saam met hulle voor die lekker warm vuur. Daarna gaan hy alleen by ’n tafel, wat in die een hoek staan, sit. Hy roep ’n lang maer man nader wat eenkant teen die muur gewag het.

Khula, seun van baron Sean, is die enigste ander adellike in die groep. Hy is vir ʼn paar jaar lank in ’n ou kasteel weggesteek as kind, want sy vel is donker. Die praatjies oor die baron met die sieklike blonde vrou en die bruin baba het vinnig versprei. Totdat hy vir Sorm ontmoet het, het hy eenkant gelewe, maar sedertdien is hy stadig maar seker deur die klein groepie saam met Sorm aanvaar. Khula is baie goed deur ’n monnik en ’n soldaat wat sy pa vir die doel gehuur het, geleer.

“Khula,” sê Sorm, “hier is die voorbeeld van die briewe wat vandag ná die seremonie aan die verteenwoordigers van die baronne en prinse gegee moet word. Ek het besluit om ook een aan Radcliffe, die Rooi Prins, te gee, derhalwe het ons te min briewe voorberei. Ek het ook die uitnodiging om die komitee van Uther, my groot oupagrootjie, te laat herlewe, verander. Dit moet nie lyk asof ek dink ek is die voorsitter of enigiets nie. Die uitnodigings na my eie Kasteelraad is meer ferm bewoord, asof dit verpligtend is. Help asseblief om al die briewe so te kry dat ek net later vandag die seel daarop kan aanbring.”

“Ja, my heer,” antwoord Khula met genoegdoening. Sorm is net “heer” as hulle tussen mense is.

Hulle werk totdat drie helpers begin om tafels reg te skuif en bakke vol kos uit te dra.

Soos voorheen deur Sorm versoek, lyk dit nie eintlik na ’n viering van enigiets nie. Daar is geen drank nie, net ’n bietjie van gister se bier, en kruike met vars water. Daar is twee bakke soutvleis op twee van die tafels: een met vleis wat pas in die kaggel gebraai is en een met koue vleis. Verder is daar bakke met varsgebakte growwe brood en bakke met appels.

Nadat hy sy hande gewas het, neem Sorm ’n appel, ’n stuk brood en ’n hout-glas vol water. Hy maak seker dat hy elke item lukraak uit die bakke kies. Twee weke gelede het hy en Krijger al ’n stelsel uitgewerk waarmee hulle die risiko van vergiftiging beperk. As Sorm ’n voorspelbare stuk kos of drank móét neem, proe Krijger dit eers.

Sorm maak die teken van die kruis en breek die stuk brood oop sodat daar stoom uitkom. Hy ruik daaraan en hoop dat hy die ryk, aardse reuk van hierdie vars brood die hele dag saam met hom kan neem. Die mans om hom praat gedemp en rustig terwyl hulle eet, elkeen sommer by die tafel of stoel naaste aan hom.

Sorm skuif die briewe opsy sodat ’n helper, ’n jong seun wat nog nie ’n plek het om te sit nie, langs hom kan sit. Die seun gaan sit baie huiwerig maar eet dan hongerig. Hy werk seker al van vroegoggend af. Na die brood eet Sorm die appel op sy unieke manier: Hy haal sy veg-mes uit en sny telkens een ronde skyf af om te eet, versigtig sodat ’n pit nie uitval nie. Die seun hou hom dop totdat Krijger hom begin terg oor hy so maer is.

“Seun, jy moet meer eet sodat jy eendag darem ’n swaard kan optel,” sê Krijger.

Die seun bloos en neem ’n stuk koue soutvleis. Hy gaan die res van die dag agter die kombuis vir sy maats vertel hoe hy tussen Sorm en die groot soldaat gesit het, en hoe Sorm ʼn appel opkerf.

Na die kortstondige ete is daar ’n beroering by die deur. ’n Kort, fris monnik wie se hare al halfpad grys is, kom in. Hy skerts met almal terwyl hy na Sorm toe stap. Sorm staan op en hulle groet deur mekaar se arms vas te gryp.

“Krog, dit is goed om jou te sien,” sê Sorm.

“Ek het gou gekom om jou te vertel dat daar darem ook ’n paar gewone mense soos ek vir die seremonie aangekom het,” antwoord Krog met ’n lag.

“Ek hoor jy is nou die Ab van die klooster van Edburg,” antwoord Sorm.

“Ek is te kort vir daai titel,” antwoord Krog.

“Dit is eerder die titel wat te lank is,” antwoord Sorm. So het hulle vir ure lank met woorde gespeel terwyl Sorm in Edburg studeer het.

“Die Rooi Prins het ’n onbekende besigheidsman gestuur. Baron Duncan het ’n weermagsersant gestuur en elke dorp het darem een of ander gesant afgevaardig,” vertel Krog verder, “ en al die ander baronne is goed verteenwoordig.”

“My pa sou self kom as hy enigsins kon, maar ek en die burgemeester is darem hier,” sê Khula.

Krog glimlag vir hom en vertel verder: “Die Biskop het die Pous se seëlring saamgebring en al die abdye is verteenwoordig.”

“Dit moes vir jou ’n gestoei afgegee het,” dink Sorm en kyk dankbaar na Krog.

“En die argitek van Edburg...,” begin Sorm vra.

“Ook hier,” verseker Krog hom.

“En die gewone dorpsmense?”

“Nie almal stel belang nie, my heer,” antwoord Khula, “en die burgemeester en Die Sekretaris het besluit om die kasteelhek te sluit sodat daar nie te veel inkom nie.”

Sorm knik en sê: “Khula, hier is my lys van voorbereidings en prioriteite. Lees dit vir ons sodat ons vir oulaas kan besin of dit volledig is. Daar lê harde werk voor na die seremonie, en die tyd vir vooruitdink is amper verby.”

Sorm sug, want die tyd vir ’n lewe van sy eie, is ook vir goed verby. Hy dink onwillekeurig terug aan die meisie Elisabeth wat hy in Edburg gesien het. Hy onthou haar blink, lang swart hare en hoe sy gebloos het toe sy agterkom dat hy vir haar kyk. Maar al sulke kinderdrome is nou op ʼn end. Hy onthou ook wat Krog vir hom geleer het:

“Fokus op die uitdagings van die huidige werklikheid, eerder as om uitdagings in ʼn fantasie te soek.”

Die gesprek om die tafel duur vir ’n rukkie in gedempte stemme voort, net soos die gebrom by die ander tafels en stoele rondom hulle, en toe verskoon Krog hom en verlaat die slaapsaal.



TAN-TARAA! ’n Trompet blaas die seremoniële saluut, waarna die manne in die saal rondskarrel om alles weg te pak en hulself gereed te maak.

Daar is ’n harde klop aan die deur, soos met die steel van ’n spies, en dan stap ’n priester, twee seremoniële piekeniers en ’n helper binne. Die priester is heeltemal oordadig aangetrek in ’n lang pers kleed met brokaat omboorsels om die nek en moue, verskeie goue kruise om die nek en ringe aan die vingers. Sy hooftooisel is so hoog en swaar met goue patrone op die pers materiaal vasgewerk dat hy dit met moeite op sy kop balanseer.

Die piekeniers lyk presies soos Sorm hom voorgestel het, elk geklee in koningsblou en groen, met patrone op die moue en op ’n breë band langs die knope af. Elke piekenier dra ’n seldsame wapen, ’n lang stok met ’n kombinasie van byl en spiespunt vooraan, gemaak van blinkgepoleerde, koolstof-versterkte yster. Sorm sou graag alle ysterwapens van daardie metaal wou laat maak. Die meeste van die soldate se wapens en wapenrusting is oud en laat veel te wense oor. Die helper dra ʼn pakkie netjies gevoude klere en ’n kommetjie gegeurde water.

Sorm staan op, skop sy skoene uit en haal sy gordel af.

“Die tyd het aangebreek,” dink hy, “ van nou af is ek nie meer my eie mens nie, moet ek my kop hooghou ongeag hoe ek voel en wat gebeur.”

Hy onthou ook Krog se afskeidswoorde aan hom destyds in Edburg:

“Jy kan word wat jy glo en jy kan glo wat jy hoop. Hoop dus net die beste dinge en mik altyd hoër.”

Die priester kom voor Sorm staan, bekyk hom krities van kop tot tone en skud sy kop.

“Hoe kan ’n mens nou ’n behoorlike indruk van belangrikheid skep met sulke hare, geen baard nie, geen maag nie, geen aanvoeling vir mode nie,” dink hy en sug.

Sorm skud sy mantel van sy skouers af en staan daar voor almal in net ’n kniebroek en moulose hemp, alles van wit wol gemaak, onder ’n eenvoudige borswering van ysterringe. Hy dra ook bypassende wapenrusting om sy onderarms. Hy is lank en maer met ’n plat maag en ʼn effens sterker bolyf as wat mense sou dink as hulle hom in los velle en goiing sien rondstap. Sy kort blonde hare blink bo sy sonnige, skoongeskeerde gesig. Sy neus kriewel van die priester se oordadige parfuum.

Die priester was Sorm se hande in die gegeurde water en beveel die helper om die voete te was. Hy hang ’n ligte goudkleurige oorkleed bo-oor Sorm se wapenrusting. Verder hang hy ’n lang koningsblou mantel om Sorm se skouers en trek dit om sy lyf vas in ’n blink nuwe leergordel met ’n goue gespe. Laastens plaas hy ’n hanger met ’n goue kruis om sy nek.

Die priester frons toe hy die ander hanger met sy leertoutjie om Sorm se nek onder die onderklere sien. Toe hy dit probeer afhaal, vat Sorm sy hand ferm vas en sê:

“Nee. Dit is my pa.”

Tot die priester se verdere ontsteltenis gee Krijger vir Sorm sy kortswaard en skede aan.

“Onder GEEN omstandighede mag hy gewapen wees nie!” raas hy.

“Ek dra my swaard en neem my eie besluite. U staan gevaar om die seremonie te ontwrig as u tyd mors, Padre. Laat ons dus nie verder talm nie,” sê Sorm met finaliteit in sy stem.

Die priester haal sy skouers op, maak die teken van die kruis en beveel die helper om stewels met goue gespes vir Sorm aan te trek. Toe hy klaar is, staan die priester terug, kyk na sy handewerk, mompel iets en draai om na die deur waar hy ingekom het.

Sorm laat die twee piekeniers voor hom loop. Krijger en vier van sy beste soldate loop agter Sorm. Hulle is geklee in ligte wapenrusting met swaarde aan hulle gordels en dra skilde, elk met ’n familiewapen in helder rooi, blou of groen, op die rug.

Die deur waardeur hulle nou uitgaan, lei na die hoofgang van die kasteel. Die eeue-oue klip is al uitgeloop in die middel sodat die gang-vloer rond en glad is. Hulle stap met die gang af tot waar dit uitloop op ’n swaar houtdeur wat met ysterpale versterk is.

Na regs is ’n kleiner deur wat na die agterste gang lei. Die priester draai soontoe, maar Sorm wys na die groot deur en sê:

“Ek wil buite-om gaan, oor die brug.”

Krijger en die priester protesteer albei dat dit gevaarlik kan wees, maar Sorm en die helper het klaar die groot deur oopgemaak. Buite is die binneplaas van die kasteel, maar hierdie deel daarvan is afgesper. Die res van die piekeniers van die seremoniële wag staan daar en wag. Hulle is almal in die koninklike blou en groen geklee en hulle is die kern van die kasteel se garnisoen.

Die geselskap haas hulle almal agter Sorm aan. Hy stap na die twintig piekeniers en groet elkeen met die hand. Die priester wil later rondspring van ergernis oor die vermorsing van tyd, maar Sorm kyk elke wag in die oë om te sien wat elkeen dink. Die meeste van hulle het hy al gesien of leer ken. Die ouer soldate het hom as kind leer ken en die jongeres het hy probeer ontmoet vandat hy terug is.

Daarna klim Sorm met die mankoliek houttrappe op na die houtbrug wat van die dak van die slaapsaal oor die smal deel van die binneplaas gebou is. Hy moet die onheil wat vir hom wag, tegemoetgaan.

Toe hy bo kom, kan die mense wat in die binneplein buite die versperring staan, hom sien. ’n Paar juig en ’n paar brom. Terwyl hy wag vir die priester wat teen die trap op stoom, staan Sorm by die reling, wat ook maar lyk asof dit herstelwerk benodig. Hy kyk af na die mense op die binneplein, dié wat nie belangrik genoeg is om by die deur ingelaat te word nie. Baie van hulle lyk moeg, party het nie warm jasse nie. ’n Paar van hulle kyk opgewonde op na hom. Hy probeer so veel as moontlik van hulle individueel bekyk en waai vir hulle.

Op een of ander manier weet hy ook wat volgende moet gebeur: Iemand roep iets onhoorbaar en hy draai daarnatoe sodat sy borswering hom van voor beskerm. Daar is ’n geluid soos van wind wat op hom afpeil. Hy lig albei sy arms op met die wapenrusting voor sy gesig en slaan dan afwaarts daarmee. Sy arms tref die moordpyl van bo af. Dit spat skadeloos teen sy borswering en die hef breek af. Sorm kyk na die punt wat op die houtvloer lê: Dit is blink en vaartbelyn, ’n moderne wapen en nie oral beskikbaar is nie.

Krijger wil ’n OORVAL kry! Hy het sy swaard getrek en wil iemand daarmee bydam. Sorm maan hom tot rustigheid met ’n hand op sy skouer en beduie vir hom om die pylpunt op te tel.

Sorm wys vir die opgewonde skare om te bedaar, waai vir oulaas en stap af met die trap aan die einde van die brug. Die trap eindig in ’n klein ommuurde tuin voor ’n versierde deur. In die tuin staan daar ’n put, die kasteel se strategiese waterbron. Sorm maak vir homself ’n nota dat hy moet sorg dat daar permanent ʼn wag daar staan. Sorm vat aan die plek waar sy naam ingekerf is op die stam van die enkele boom wat in die middel van die tuin staan. Hier is hulle nou, aan die einde van die pad; dit is baie vinniger oor die brug as met die smal gangetjies langs agterom die kombuis.

Die saal waarvoor hulle staan, ’n nuwer klipgebou, is die mooiste deel van die verweerde ou kasteel, maar het ongelukkig nog ’n hout-dak. Sorm het nog altyd gedink dat dit eerder as ’n kerk binne-in die kasteel gebruik moet word. Die hout-dak is nie vir militêre doeleindes geskik nie omdat dit te maklik aan die brand gesteek kan word.

Krijger en die priester begin stry. Die priester wil nie die paar junior offisiere en soldate laat ingaan nie. Sorm maak eenvoudig die deur oop, wys vir die priester om in te gaan en sê:

“Tensy u wil hê dat my lyfwagte u moet voorgaan.”

Die priester lei hulle haastig na binne. Hulle gaan almal binne die saal staan.



Die toneel daar binne is soos in een van Sorm se drome. Die baniere van die kasteel en al die dorpe en hooggeplaastes wat teenwoordig is, hang indrukwekkend van die hoë plafon af. Die lig skyn deur rooi, blou en groen loodglas vensters op die kleurvolle versameling belangrike mense. Al die mans wat deur die Biskop se amptenare belangrik genoeg geag word om in te kom, staan in groepies rond. Hulle het beter, nuwer klere aan as die mense daar buite. Hulle dra almal klere gemaak van ryk gekleurde ingevoerde materiaal, hoedens met vere in en wit krae met frille en goue borduurwerk. Hulle juwele blink in die oggendlig.

Sorm glimlag wrang en dink daaraan dat dit sekerlik ’n paar mense in hierdie saal verskriklik geïrriteer het terwyl sy pa, ten spyte van al sy wonde en die geheimsinnige siekte, aan die laaste draadjie van lewe vasgeklou het. Hy het, hardkoppig soos altyd, eers sy laaste asem uitgeblaas toe sy oudste seun sestien en dus, volgens Uther se wette, mondig geword het. ’n Voog-regeerder was nie benoem nie, so dit sou waarskynlik deur ʼn burgeroorlog beslis moes word.

Die priesters en kerklui in die saal het meesal lang swart of pers togas aan en dra ook goue juwele. Die Biskop self is die mees ryklik van almal geklee, ’n verskynsel in pers en goud. Die Biskop se gewapende lyfwagte, meesal soldate wat deur die kasteel verskaf is, is geklee soos die twee wat vir Sorm kom haal het. ’n Paar van die mans in die saal is ook gewapen.

Die priester lei Sorm na sy plek voor die altaar in die middel van die saal, en skarrel dan tot by sy eie plek regs agter die Biskop. Daar is ’n effense gemompel toe Sorm se lyfwagte ’n halfmaan tussen die hooggeplaastes om hom vorm.

Sorm moet vir die hele seremonie lank staan of kniel, en skielik voel hy asof hy nie kans sien vir dit wat voorlê nie. Dan merk hy op dat twee vroue tog in die saal toegelaat is, in ’n hoekie by die deur agter die kerklui waar laasgenoemde hulle nie kan sien nie. Sy ma is in ’n draagstoel met helpers rondom haar, en langs haar sit sy boetie en sy sussie. Natuurlik moet hy voortgaan. Hy sien ook vir Krog agter die Biskop staan, en dié knik vir hom.

Die Biskop begin met die Mis, sy temerige stem deur ’n koor van priesters aangevul. Daar is ’n beroering toe die Biskop die broodjie op Sorm se tong wil plaas: Krijger wil dit eers proe, maar Sorm wys hom weg. Dit is te klein en droog om gif te bevat. Die Biskop drink eerste van die beker, so dit is veilig. Sorm sluk swaar aan die bitter mengsel van wyn en kruie.

“Dit is die eerste van baie bitter bekers,” dink hy. ’n Priester wys vir Sorm om voor die altaar met die ewige Vlam van Uther, op ’n purper kussing te kniel...

Die Biskop en een priester met ’n klein kissie kom nader. ’n Ander priester swaai ’n houer vol brandende wierook heen en weer. Die soet reuk walg Sorm. Die Biskop haal ’n klein glashouer vol heilige olie uit ’n sak onder sy toga. Hy drup daarvan op die Pous se reuse seëlring. Dan druk hy die ring teen Sorm se voorkop. Hy maak die teken van ’n kruis en begin die formulier:

In nomine Patre...”

Sorm maak sy oë vir ’n oomblik toe en hy moet homself staal. Hy verban die gedagte dat dit alles te groot en vreemd is vir hom, eenvoudige jong seun wat hy is. Hy maak sy oë oop toe die Biskop talm, asof hy wag vir iets.

Krijger en sy makkers staan gereed met hulle hande op hulle swaarde. Daar is ʼn aanvoelbare spanning in die saal, maar die vreemde oomblik gaan verby. Die Biskop, met ’n sug asof hy teësinnig voortgaan, maak die kissie oop wat die priester vir hom hou. Hy haal ’n eenvoudige kroon van suiwer goud met ’n enkele steen, ’n chalcedoon, en ʼn kort septer met die ring van Uther die Grote op die goue punt daarvan geset, daaruit.

“Sorm Iannus,” sê die Biskop van Chalcedonum gewigtig en plaas die koue kroon op Sorm se kop, “ek kroon jou Koning Iannus die Tweede.”

Die Biskop se trompetblaser blaas die koninklike saluut!

“Dit is volbring,” dink Sorm en glimlag verlig daar waar hy kniel met die kroon van Uther op sy kop.

*****
Storm droom hy ry op ’n perd in die sneeu onder onheilspellende dooie bome deur. Die sneeu maak ʼn dowwe kraakgeluid wanneer die perd se hoewe dit breek. Hy is omring deur perderuiters, almal geklee in swart mantels met kopstukke wat oor hulle koppe hang sodat hy nie die gesigte kan sien nie. Kraaie sit in die bome en skreeu met hulle kras stemme. Hy voel naderende onheil en sien vorentoe deur die takke ’n kasteel wat in die sneeu staan en brand. Die manne met onsigbare gesigte draai na hom toe. Hy dwing homself om aan die hanger om sy nek te vat. Die koue steen van die hanger blink onpeilbaar groen in die maanlig. Toe gooi die man naaste aan hom die kopstuk van sy mantel af en hy sien dit is Krog. “Krog, hoekom dra jy sulke outydse klere?” vra hy in sy droom. Hy skrik wakker van sweet wat van sy ken af drup tot in die V-vormige holte waar nek en bors bymekaarkom. Hy kyk op sy wekker en sien dit is ’n uur te vroeg om skool toe te gaan. Hy besluit om buite in die heerlike koel naglug te gaan draf. Hopelik waai dit die spinnerakke in sy brein dan skoon weg.

*****

View user profile

2 Re: Die ritueel on Sun Mar 04, 2012 9:46 am

jy besit die gawe om sin vir sin spanning in n heerlike verhaal in te vleg!!

View user profile

View previous topic View next topic Back to top  Message [Page 1 of 1]

Permissions in this forum:
You cannot reply to topics in this forum