SplinterDrome

Bring jou splinter drome in woorde ----- Turn you dream fragments into words

PLEASE NOTE ALL WORK ON THIS FORUM HAS NOW BEEN REGISTERED AT SAMBRO FOR COPYRIGHT ON ANY LYRICS THAT MIGHT BE USED IN MUSIC SCORES NEEM ASSEBLIEF KENNIS ALLE WERK OP DIE FORUM IS GEREGISTREER BY SAMBRO VIR KOPIEREG OP ALE VERSE OF DELE DAARVAN WAT MOONTLIK IN MUSIEK LIRIEKE AANGEWEND KAN WORD
Search
 
 

Display results as :
 


Rechercher Advanced Search

Keywords

Latest topics
» lewe,.. minaar of moordenaar
Fri Sep 21, 2012 11:37 am by Lala

» As..........................
Fri Sep 21, 2012 9:56 am by Ronel Holtz

» Lente van my siel
Fri Sep 21, 2012 12:41 am by Ronel Holtz

» Agtergeblewe Paradys
Sat Jul 14, 2012 10:44 am by Utopian Indigent

» tussen woorde
Sat Jul 14, 2012 7:54 am by Utopian Indigent

» Cinnamon heart
Sat Jul 14, 2012 7:54 am by Ronel Holtz

» Drome van Spanje
Sat Jul 14, 2012 7:51 am by Ronel Holtz

» stilte kwatryn
Thu Jul 12, 2012 9:31 am by Ronel Holtz

» van agteruit loop om vorentoe te kom
Thu Jul 12, 2012 9:28 am by Ronel Holtz

October 2017
MonTueWedThuFriSatSun
      1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031     

Calendar Calendar

Affiliates
free forum

Affiliates
free forum


You are not connected. Please login or register

Die Icarissa se mangel

View previous topic View next topic Go down  Message [Page 1 of 1]

1 Die Icarissa se mangel on Fri Mar 02, 2012 7:53 am


Die eerste teken van moeilikheid is toe twee van die Insekte skielik in die beheerkamer van die Icarissa, die groot ou dromedaris van die buitenste ruimte, verskyn. ’n Onverwagse energiepuls, en toe staan die twee vreesaanjaende, skreeuende Insekte tussen hulle: Manjifieke krygers, met glimmende swart borswering en kragtige wapens. Luitenant Kentsela, in beheer van die skof, maak alarm net voordat hy verkool word - die laserstraal tref hom vol in die bors.

Die noodwag reageer onmiddellik, maar teen die tyd dat hulle in die beheerkamer instroom en die invallers oorweldig, is wesenlike skade aangerig: Twee vlieëniers is ernstig gewond, ’n wag is sterwend aan Insek-gas en die sekuriteitstelsel is buite werking met gate en skeure in die beheerpaneel. Krog, die kort, frisgeboude ou nagsersant, is vir die oomblik in beheer en begin bevele uitreik.

Torm stik aan die walglike reuk van oorlog. Hy staar na waar die twee dooie Insekte lê. Onder die swart borswering van taai en harde eksoskelet is hulle helder rooi van kleur met ’n gelerigheid in die voue van die onderlyf. Die bene is kliphard en gruwelik getand, met spiere in die heup waarmee ʼn Insek drie maal so vinnig kan beweeg en vier maal so hoog kan spring as ’n mens. Die verstarde veelvuldige wrede oë is verskriklik om na te kyk, en die aanpassings aan die gewone biologiese gifgasbuise is die mees gevorderd wat hy nog ooit gesien het. Die een Insek het ʼn blink swart stert met ʼn gruwelike angel wat hy dreigend bo sy kop kan ophys soos ʼn skerpioen.

Maar dit is nie wat Torm se oë vasgenael hou nie. Elkeen van die Insekte het ’n gasheer, daardie ongelukkige wese waarop dit teer, waarop die eiers gelê is. Eerder as om die verlamde gasheer op te vreet, manipuleer en oorheers die Insek hom of haar lewenslank tot voordeel van die Insek. In hierdie geval is die een ’n amfibiese wese met ’n slymerige groenbruin vel en die ander een is ’n mensagtige wese. Beide is bleek van die bloedarmoede. Hulle is saam met hul meesters dood.

“KADET TORM!” ruk Krog se stem hom terug tot besinning, “VOLG MY!”

Hoekom wil die wyse ou sersant nou juis vir hom, wat maar net ’n gewone kadet is, saam met hom neem? Wel, nou nie in alle opsigte net ’n gewone kadet nie...

Torm draf saam met Krog in die gang af op pad na Kaptein Barak se kwartiere. In die gang voor die kajuit kan hulle reeds sien dat dit te laat is. Die deur is halfpad oop, daar is gas-walms in die gang en ’n sieklike reuk kom van binne af. Binne die erg vernielde kajuit is dit duidelik dat hulle met Barak, ’n formidabele vegter, handgemeen geraak het. Die resultaat is bloederig en bespat met slym en Insek-sap. Torm sluk swaar aan sy naarheid. Barak het klaarblyklik probeer om sy kantoor te verseël maar kon dit nie regkry nie. Die Insekte wat oorleef het, het hulle werk daar gedoen en toe weer verdwyn.

Dit blyk gou dat Krog die hoogste in rang van die oorblywende offisiere is. Dié ervare nagsersant reik nou bevele uit: Die eerste prioriteit is om die sekuriteitstelsel te herstel en te herkalibreer om die Insekte se energiepulse op te vang. Die volle bemanning word op diens geplaas, met ekstra wagte op alle strategiese punte. Alle offisiere moet gereeld rapporteer. Kommunikasie word op ’n ongewone frekwensie op die tweerigtingradio’s gevoer, want daar is inmenging met die gewone seine, en die interkomstelsel is beskadig.

Die Insekte omseil egter steeds die sekuriteitstelsel - daar is al hoe meer onverwagse energiepulse en die aanvallers verskyn en verdwyn oral. Die torpedobuise word opgeblaas voordat die wagte kan keer. Die kunsmatige atmosfeer word beskadig. Gasmaskers word reeds outomaties uitgereik op die meeste van die verdiepings van die ruimteskip. ’n Aanval op die wapenkamer word net-net afgeweer.

Alarm word in die enjinkamer gemaak: ’n Hele seksie Insekte met amfibiese gashere het deur die watertenk ingekom en die kristalbeheereenheid oorval! Die Icarissa se kragtoevoer is reeds ontwrig voordat die wagte hulle kan verdryf.

Vyf gasheerwesens, onder telepatiese afstandbeheer, verskyn op die vlugdek waar die patrollie-en reddingstuie staan, toegerus met selfmoordbomme! Een van hulle het tragies sy meester se beheer afgeskud. Daar is nog genoeg wil in hom oor om die droom van selfbeheer aan die lewe te hou, en die afstand tussen hom en sy meester is die kans waarvoor hy gewag het. Hy probeer die ander gashere aanval en keer, en word saam met hulle in ’n miljoen stukkies opgeblaas. Krog kreun toe die stelsel ’n diagnostiek op die vlugdek voltooi: Die vlugdek is bykans onbruikbaar beskadig!

Elke Insek word dubbel deur sy gasheer versterk. Gashere word vir spoed of krag of ’n besondere vermoë gekies. Die Insek versterk dan daardie eienskap en vul dit aan. As ’n Insek gewond of gedood word, hou die gasheer aan met veg totdat dié ook gedood word. ’n Mens het min kans as hy met een van hulle handgemeen raak. Hierdie verskriklike krygers is inderdaad gevaarlike vyande en boonop met die beste wapens en ander indrukwekkende tegnologie toegerus. Tog veg Krog en sy bemanning moedig om die aanval af te weer.

Die Icarissa se verlies aan soldate en apparate word al hoe erger, en dit lyk asof die Insekte net al hoe meer word. Toe die kragtoevoer te swak word om die volle energieskerm om die Icarissa te dra, haal Krog die mobiele beheerpaneel uit, gespe dit om sy lyf en gee die gevreesde bevel: Alle personeel wat kan, moet vlug na die Icarissa se binneste. Diegene wat van dié ontsnaproete afgesny is, moet met ontsnaptuie vlug of hulle ingrawe om te veg.

Krog, met Torm langs hom, is self die agterhoede vir die beheerkamer-eenheid terwyl hulle vlug; vlug diep in die lyf en donker liggaamsholtes van hul lewende ruimteskip in.



Die Icarissa se binneste is net gedeeltelik bruikbaar. Eeue gelede al het die mense hierdie reuse wesens ontdek wat deur die ruimte reis, en besef dat dit meer effektief is om hulle te probeer gebruik as om voort te gaan met die ontwikkeling van duur tegnologie om tussen die sterre te reis. Van ver af het hulle soos komete gelyk omdat hulle soveel energie afskei dat dit ’n gloeiende spoor nalaat. Later is ontdek dat hierdie wesens gewillig en bruikbaar is, en ’n beheertoestel wat amper soos die stang van ’n perd werk, is ontwikkel. ’n Beheerkamer en kwartiere is bo-op die Icarissa en die ander dromedarisse aangebring.

Só het ruimteskepe ontstaan wat tussen ’n aangeboude komponent en ’n biologiese komponent, die binneste, verdeel is. Meer onlangs nog het Torm se pa Ian, die beroemde wetenskaplike, daardie nuwe en verskriklike ontdekking gemaak en die omvattende tydlyn versteller of OTV help ontwikkel. Die Icarissa is met ʼn OTV toegerus. Dit was met groot opwinding dat Torm, topstudent van die Akademie, by die Icarissa aangesluit het op hierdie geheime sending agterom die oorlog-sone.



Terwyl Krog en Torm in die hysbak afry, praat Krog oor pa Ian. Hulle het lank gelede by die Akademie ontmoet. Hy is vol respek vir die wetenskaplike se kalmte en opregtheid. In elke situasie kom sy kennis en insig na vore.

Torm luister, onthou, en raak aan die hanger om sy nek met digitale foto’s en video’s van sy familie binne-in ’n steen, ʼn chalcedoon.

Weens ’n tekort aan soldate word kinders soos hy se kinderdae kortgeknip. Hulle word in ’n groei-versneller rypgedruk, opgelei en in die oorlog ingestuur. Torm is skaars tien jaar oud maar het die lyf en verstand van ’n agtienjarige. Die bietjie herinneringe wat hy aan sy kinderjare het, is vir hom die waardevolste besitting van alles.

“Kan dit wees dat Krog verstaan dat dit is waaroor ek tydens hierdie kosbare sekondes die graagste wil praat,” dink hy en kyk na die man wat sy jare fier en regop dra, amper soos pa Ian.

Die hysbak sak uit die aangeboude gedeelte in die magenta liggaam van die Icarissa af. Dit is chaos daar onder. Die binneruim is gevul met die Icarissa se lyfreuk, die reuk van ʼn dier. Die bewoonbare ruimte is maar klein en die minimum toerusting is daar aangebring.

Voorbereidings word inderhaas getref om so gou moontlik die diepste ruimte in te vlug, buite bereik van die Insekte, en om aanvalle deur die hysbakskag af te weer. Die energiepulse kan nie deur die vel en vlees van die Icarissa dring nie. Die genetiese kode in die impuls sal deurmekaargegooi word deur die genetiese kode van die Icarissa.

Die Insekte begin egter met ’n nuwe strategie! Hulle val van nuuts af aan. Die Icarissa krul van pyn en haar bemanning word heen en weer geslinger. Sig word gedeeltelik herstel met outydse radar en periskope wat deur openings in die ou dromedaris se vel steek.

Krog en Torm, vir wie hy deurentyd by hom hou, probeer sien wat buite gebeur. Hulle sien hoe ’n nuwe soort aanvalswapen gebruik word: Wurmagtige wesens onder Insekbeheer, wat oral aan die Icarissa vassuig. Die lyf van die wurm dop dan om na binne totdat net die suier buite sigbaar is, en val dan die vleis aan en groei binne-in die ou ruimteskip in.

Laserkanonne word opgestel wat ’n paar van die wurms, voordat hulle vassuig, aan flarde skiet. Stukke wurm warrel buite in die donker ruimte rond. Die stank van etter word onuithoudbaar. ’n Immuniteitsversneller word aan die Icarissa toegedien om die wurms se gif, infeksie en die groeiende wonde te probeer teenwerk.

Maar die aanvallers is te veel. Gapende wonde gaan in die Icarissa se vel oop. Sodra die wond groot genoeg is, gaan die Insekte weer tot die aanval oor. Oral in die binneste raak Insek en mens handgemeen, en gifgas-walms verklap waar hulle binnegedring het.

“Sersant!” Dit is die formidabele vegter, Neil, wat vir Krog roep. Torm staan tussen hulle en hoor die ontstellende nuus: “Die Insekte is op pad na die mangel!”

Krog kyk na Torm en hulle knik vir mekaar. Die tyd het aangebreek. Die stryd is verlore.

Hulle enigste hoop om voor die blitsige Insekte daar te kom, is die paar supersoniese veërs wat gereed staan. “Besems” is wat party soldate hulle heel sarkasties noem. Soldate is maar so. Eintlik is dié motorfietse wat deur die lug swiep, elk met ʼn 20 millimeter kanon toegerus, die enigste manier om met ʼn Insek wat soveel vinniger as ʼn mens is, en kan spring, mee te ding. Torm, Neil en Krog gryp elkeen ʼn helmet, spring op die saal van ʼn “besem” en gespe die veiligheidsgordel aan. Daar is geen tyd om te mors nie!

“VVRROEEEM!” Die krag van die enjin ruk amper vir Torm uit sy saal toe hy die aansitter druk. Hy trek die wiele op en vlieg net onder die slymerige plafon van die tonnel waarin hulle is. Hulle swiep deur die lug en om ʼn draai, en toe sien hulle die Insekte. Neil vlieg voor en brand los met die kanon.

Die Insekte spring boontoe om hulle by te kom. Krog en Torm skiet hulle met hul laserpistole. Party Insekte het ligte of vlieënde gashere en vlieg agter hulle aan! Krog draai sy kanon na agter en skiet hulle aan stukke.

Torm sien sterre en voel duiselig. Hy is op sy helmet raakgeskiet! Die helmet val af en hy tol in die rondte, af na die vloer wat vinnig nader kom. Hy kry net betyds weer beheer oor sy “besem”, maar nou vlieg hy te laag. Hy is tussen die Insekte! Dan is Krog en Neil skielik daar en hulle veg vir hom ʼn pad boontoe oop.

Nou swiep die wind deur Torm se hare op sy helmetlose kop. Hulle vlieg teen ʼn kranksinnige spoed teen die plafon langs. Dit verg al sy se aandag om nie teen hierdie spoed in iets vas te vlieg nie. Boonop drup daar sug uit die vleis van die arme Icarissa, in wie se reuse keelholte hulle nou is.

Hy sien amper te laat die Insek raak wat teen sy “besem” opklim. Die klein, seekatagtige gasheer het aan die onderkant vasgesuig en die Insek is so naby dat Torm hom ruik. Die gasheer ruik soos vrot vis en die Insek ruik na swael. Torm gryp sy dolk. Hy weet wat om te doen. Een steek in die oog, en die Insek en seekat val gillend af.

Torm sien dat Neil met drie van die Insekte slaags is. Hy wil hom gaan help maar dan kry ʼn knyper vir Neil beet en hy val af na onder! Krog wys vir hom om aan te gaan. Neil sal sy lewe baie duur verkoop en vir hulle tyd wen. Torm bewe van skok. Hy het nog nooit die werklikheid van oorlog belewe nie, en dit is heeltemal anders as om by die Akademie te oefen.

Hulle vlieg deur ʼn poort in ʼn kamer in. Verder as dit kan hulle nie vlieg nie, en hulle land dus op die vloer. Krog aktiveer die veiligheidsdeur teen hulle agtervolgers. Wie weet hoe lank dit sal hou? Voor hulle is daar ʼn deur na ʼn kleiner gang. Dit is toe dat Krog vir Torm aan die arm neem en hom deur dié slymerige tonnel lei na die binneste kamer, die allerheiligste, die finale bestemming.



En nou staan Torm in die ingang van die allerheiligste met die koningsblou OTV glinsterend in die kamer voor hom. Die apparaat is gebou rondom ’n orgaan wat ten beste as ’n mangel beskryf kan word, ’n stuk van ʼn enigmatiese en oënskynlik nuttelose orgaan in die Icarissa se keelholte.

Die donker magenta mangel is onder die OTV sigbaar, effens onrustig aan die swaai binne-in ’n deurskynende omhulsel. Die infeksie sal binnekort ook hier wees; Torm verbeel hom hy sien reeds ’n kolletjie wat van kleur verander. Hy verbeel hom ook dat daar die effense reuk van mangelontsteking en slegte asem om die mangel hang.

Krog staan wag by die deur en daar is min tyd, maar Torm is noukeurig opgelei vir dit wat hy moet doen. Rustigheid is ’n kritiese deel van die seremonie.

Vroeg reeds is geïdentifiseer dat Torm die noodsaaklike gene het, een uit ’n miljoen wat gebore is met die beste kans om die mangel te aktiveer. Hy is as deel van ʼn baie spesiale eenheid by die Akademie opgelei.

Hy fokus op herinneringe uit sy kleintyd, ’n spelery in die geelperskeboord saam met sy nefies. Hulle het met sorgelose vryheid hulle verbeeldings vrye teuels gegee op die familie se landgoed op Tuiswêreld.

Torm tree rustig nader en steek sy linkerhand uit. Sy hand word elke oggend noukeurig deur die oordadige tempel-elfies versorg. Dit word geskeer, geolie en gepamperlang om perfek en glad te wees. Hulle kwetter elke dag vir ’n halfuur om sy hand asof dit die essensie van hulle bestaan is. Hy stap tot by die OTV en lees daarop:

“pergamemnon maneo chalcedonum directus”

Die outaal van die kolonialiste. Die hardkoppigheid van die ou priesterorde om die instruksies in ’n vergane taal aan te bring, het hom aanvanklik geïrriteer en sy oefensessies laat misluk.

Maar Torm het geleer om sy hart skoon te hou, bo politiek en sulke tydelike dinge te swewe, die irritasie te ignoreer en met diep asemteue en ’n rustige hartklop aan te gaan. Hy dink aan sy pa wat vertel dat iets met die evolusie van ’n Insek-spesie op ʼn ander planeet skeefgeloop het, ’n afwyking om gashere te gebruik om sterker te word, ’n ambisie om die heelal oor te neem. Pa Ian se uitvindsel mag nie ’n wapen wees nie maar slegs ’n laaste uitweg.

Torm laat die rekenaar hom help om ’n bestemming te soek, ’n tyd en plek wat veiliger is, waar die Insek-anomalie hom nie kan herhaal nie. Hy kan nie kieskeurig wees nie, want die tyd is min.

“Moenie die OTV probeer verstaan nie, want dit sal vir ewig neem,” het sy pa hom gewaarsku. Hy begin sy bewussyn met beelde van ʼn beter wêreld vul, beelde wat die rekenaar vir hom wys. Dan steek Torm sy hand stadig in die opening van die mangel in, met sy ander hand op die chalcedoon met die kosbare herinneringe om sy nek.

“Dit is vir jou, pa,” is sy gedagte terwyl hy op groen grasvelde en rustige water fokus.

Uit die hoek van sy oog sien hy ʼn beweging, hoor hy vir Krog skreeu. Hy ruik die gas, amper soos swawel, en sien die laser. Hy sien ’n Insek op ’n gasheer, ’n pragtige vroulike wese met lang bene en opstandige oë. ʼn Wapen en oë vol van haat word op hom gerig. Maar Torm se hand is reeds binne-in die mangel, dit neem reeds besit van hom. Hy sien ’n onontwykbare reënboog van kleure in die magenta mangel verrys:

BLOU! ROOI! GEEL!

Iets is nie heeltemal reg nie, maar tog word die kleure ’n eindelose maalkolk, dit is onkeerbaar, ’n ontsaglike energie wat hom insuig en eers die kamer en dan alles en almal om hom omskep in ’n verblindende lig. ’n Allesomvattende kleur, reuk en klank word in minder as ʼn oogwenk ’n universele emosie wat alle lewende wesens, planete en sterre verstel, verstrooi en verspoel in ’n pragtige, onverstaanbare storm soos daar nog nooit was nie...

*****
Storm skrik wakker uit ’n vreesaanjaende droom: daar was gedrogte met rooi oë vol haat, gewapen met spiese, wat hom en sy familie in ’n hut van modder en stokke vasgekeer het. Hulle het om die hut geswerm terwyl hulle aaklig skreeu, aangehits deur ’n moegoe geklee in die vel van ’n wildehond, met ’n bloederige skedel in sy hand. Storm wou beweeg en sy sussie en boetie help, maar hy was verlam deur ’n mantra wat die moegoe opgesê het terwyl hy met swart oë na hom gestaar het. Hy wou sy bene en arms beweeg maar hy kon nie. Hy het woedend wakker geword oor hierdie magteloosheid en oor die moegoe. Hy kyk nou na die sweet wat op sy kaal borskas pêrel en afloop op die laken. Hy tel die glas langs sy bed op, stik met ʼn kurkdroë keel aan ’n sluk water en staan dan uitgeput op om te stort en skool toe te gaan.

*****
En dit was donker en dit het weer lig geword; ’n nuwe dag het gebreek.

View user profile

2 Re: Die Icarissa se mangel on Sat Mar 03, 2012 5:10 am

okay jy mag maar sci-fi kort verhale skryf!!!!!!!!!!!!!!!!!!

View user profile

View previous topic View next topic Back to top  Message [Page 1 of 1]

Permissions in this forum:
You cannot reply to topics in this forum